Monday 4 May 2009

Rower skiet Ermelo-sakeman, buit rou vleis, skootrekenaar

Apr 30 2009 08:56:54:723PM - (SA)

Willem Pelser

’n Sakeman van Ermelo in Mpumalanga is Woensdagaand vir ’n klein sakkie rou vleis en ’n skootrekenaar voor sy familie doodgeskiet terwyl hy besig was om sy winkel te sluit.

Mnr. Ernest (Ernie) van Schalkwyk (66) het binne minute gesterf nadat hy omstreeks 20:00 met ’n .45-kaliber rewolwer geskiet is.

Kapt. Danny Schmulian van die Ermelo-speurtak het gister gesê ’n rower het Van Schalkwyk genader toe hy sy winkel gesluit het en geld gevra. Van Schalkwyk se vrou, dogter en blinde skoonseun was by hom.

Toe Van Schalkwyk sê hy het nie geld by hom nie, het die rower hom in sy regterarm geskiet sonder om ’n woord te sê.

Hy het die skootrekenaar en die sakkie rou vleis wat die skoonseun by hom gehad het, gegryp en gevlug.

Die polisie en ’n ambulans is ontbied, maar hulle kon niks vir Van Schalkwyk doen nie.

Schmulian het gesê die koeëlpunt is deur Van Schalkwyk se regterarm en het in sy rugstring vasgeslaan.

Die koeëlpunt het erge inwendige bloeding veroorsaak nadat dit ook sy een long se hoofslagaar getref het, het Schmulian gesê.

Volgens hom het die polisie eers vermoed Van Schalkwyk is weens ’n hartaanval dood omdat hy onlangs ’n hartomleidingsoperasie gehad het, maar ’n lykskouing gisteroggend het gewys hy het weens die koeëlwond gesterf.

Schmulian het gesê die polisie is besig met ’n grootskeepse soektog na die aanvaller, maar die ondersoek word belemmer omdat Van Schalkwyk se familie nog te getraumatiseer is om oor die voorval te praat of om ’n beskrywing van die moordenaar te gee.

Die polisie wou gister op versoek van die familie nie die name van Van Schalkwyk se familielede bekend maak nie.

Volgens kapt. Carla Prinsloo, polisiewoordvoerder op Ermelo, is die familie nog te ontsteld om met die media te praat.

Van Schalkwyk was die eienaar van die Netpark-kafee op die dorp. Hy en sy familie het Maandag sy 66ste verjaardag gevier.

No comments: